Nadia Boulanger

Nadia Boulanger in 1925

Juliette Nadia Boulanger (16 September 1887 – 22 Oktober 1979) was 'n Franse musiekonderwyseres en dirigent. Sy het baie van die voorste komponiste en musikante van die 20ste eeu onderrig, en het ook af en toe as pianis en orrelis opgetree.

Sy het gekom uit 'n musikale familie, en het vroeg reeds pryse gewen as student aan die Conservatoire de Paris, maar omdat sy geglo het dat sy oor geen besondere talent as komponis beskik nie, het sy opgehou om musiek te skryf en 'n onderwyseres geword. In daardie hoedanigheid het sy generasies jong komponiste beïnvloed, veral dié van die Verenigde State en ander Engelssprekende lande. Onder haar studente tel verskeie belangrike komponiste, soliste, verwerkers en dirigente, insluitend Grażyna Bacewicz, Daniel Barenboim, Lennox Berkeley, İdil Biret, Elliott Carter, Aaron Copland, John Eliot Gardiner, Philip Glass, Dinu Lipatti, Igor Markewitsj, Astor Piazzolla, Virgil Thomson en George Walker. [1]

Boulanger het in die VSA en Engeland onderrig gegee en saam met verskeie musiekakademies gewerk, waaronder die Juilliard-skool, die Yehudi Menuhin-skool, die Longy-skool, die Royal College of Music en die Royal Academy of Music, maar haar woonplek vir die grootste deel van haar lewe was haar gesin se woonstel in Parys, waar sy vir die grootste deel van die sewe dekades vanaf die begin van haar loopbaan tot en met die haar afsterwe op die ouderdom van 92 skoolgehou het.

Boulanger was die eerste vrou wat verskeie bekende groot orkeste in Amerika en Europa gedirigeer het, insluitend die BBC Symphony-, Boston Symphony-, Hallé- en Philadelphia -orkeste. Sy het verskeie wêreldpremières gedirigeer, insluitend werke van Copland en Strawinski.

  1. "American Students of Nadia Boulanger"..

From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Tubidy